Ver(ander)ing

Om bang te wees vir alleenheid is okey.
Mens moet eers kyk hoe al jou mense jou op 17 verlaat
en jy alleen jou skool se matriek-en-ouer-erediens moet bywoon,
voor jy besef hoe sag samekoms werklik kan wees.

Om bang te wees vir verandering is okey.
Mens moet eers elke oggend wakker SKRIK
van n kamerdeur wat met geweld oopgeruk word,
voor jy met jou hele hart na n standvastige roetine begin smag.

Om bang te wees vir afwagtende en oordonderende situasies is okey
want mens moet eers vir jare jou ore laat breek,
voor jy besef hy gaan nooit sagter praat nie,
net soos jy nooit weer sal kan ophou om jou naels te byt nie…

Om bang te wees vir die weg-breek is ook okey.
Elke mens is n huis en elke huis het sy drumpel.
Daardie dag vat jy jou goed, al is jy nie Ferreira nie,
en jy trek!

Trek weg van sy selfsug en sy koue gemoed.
Trek weg van sy harde stem en sy humeur.
Trek weg onder sy hand van beheer
en dwing jouself, net die een keer,
om te vertrou op dit wat kom
en dit wat jý kies…
Jou keuses is immers gebasseer op alles
wat jy reeds weet jy nie wil hê nie.

Jy sal vinnig leer dat sagter stemme baie mooier dinge sê
en dat jy vreugde daaruit kan put om weer lang naels te hê.

Bohemian Rhapsody

My saterdagoggende is ‘n lied. Nie een van daai Bryan Adams love songs of Taylor Swift country treffers nie, nee, dis n Queen hit – hy vat vir jou op en hy vat jou af ondertoe.
So, 8uur kry ek koffie in die bed, dan staan ek op en gaan sit saam Liefie op die sukkelsteentjies voor ons deur- ons verbeel onsself dis ons stoep. Terwyl ons die koffie geniet, kyk en roep ons vir Buurtkat wat gewoonlik tussen die karre deur wandel en homself vinnig in n ander rigting in begin kat, sodra ek begin pspsps…
Dan is die koffie klaar en die koppies op die skottelgoedrak, saam gisteraand se koppies en goete want Vrydagaande gee ons onsself af van kombuisdiens. Hier is gewoonlik waar Freddie Mercury sal sing “mammaaa i killed a man…” want ons stry vir so 40 minute oor wie die airfryer gaan was en ek stry met my gedagtes om hom nie met die ding te gooi nie. Nadat die skottelgoed en airfryer gedoen is en aan die ander kant van die water staan word ontbyt beplan. Dis ook n gestry wat na n ruk uitdraai om presies dieselfde te wees as laas Saterdag. Die kosmaak self is easy come easy go, little high vir die sampioene, little low vir die eiers. Die stry oor die volgorde van als op die toast is darem n vinnige stry maar vanoggend is daar een ekstra stry by want die banke, net soos een derde van die sitkamermat en 90% van ons slaapkamer, is vol klere. Wasdag het saam met die Dinsdae en Woensdae weggeraak tussen al ons huisdae en Oom Cyril het die local laundromat toegemaak. Nou sit ons met ons ontbyt (lunch na al die gestry) op ons sukkelsteentjies en ek wonder of ‘n stukkie bacon vir Kat sal oorreed om die social distancing reel te breek, maar dis okey want vandag is dag 172 van lockdown en soos Freddie sou sê “nothing really matters…”