Gedigte

Tip the poet

Party mense is duur,
ander kos jou niks,
te veel herwaardeer hulself gereeld
met aardse mankoliek,
meeste strek hul vermoëns
om hul waarde te behou
en min hou hul woord.

Waar en vir wie skenk jy jou tyd?

Almal wil ‘wanted’ voel,
maar niemand wil besit word nie.
Ware liefde is nie te koop nie,
waardevolle mense is nie omkoopbaar nie
en al noem jy hom of haar
met elke herdenking ‘joune’
is die enigste mens wat jy dálk tydelik besit
nogsteeds net jouself.

As iemand jou vrede kos
is hulle te duur –
maak nie saak watter waarde
jy aan jou tyd koppel nie!

Party mense is goud werd,
ander is oorgeblaas.
Die kennis van die verskil
spaar dalk jou siel.
So tel jou seëninge
en reken die mense wat jou in persoon kom geluk wens,
twee keer by.
Gun jouself ‘n voorskot op vrede en voorspoed
want jy is ryker as die geld in jou beursie
waarvoor die wêreld so hard baklei.
13.10.21

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *