Boere(troos)

Vieruur soggens, terwyl ander hoeke van die aarde nog droom,

staan hy op, was sy gesig en kyk hoe die kookwater by die ketel uitstoom.

Die dag begin met die kraak van ‘n geroesde plaashek onder sy hande.

Hy ry nie – hy stap, sodat hy die koringare kan sien én voel op sy lande.

Die son kom skamerig groet en onder by die stal kraai die haan.

Ai! Die windpomp het lanklaas vir só lank stilgestaan…

Die volk het hulself begin besig maak rondom die werkswinkel,

Voor die stoor hou die trekker, waarmee die voer aangery word, stil.

Teen middagete voel hy weer om sy smeekgebed vir reën voort te sit,

maar soms raak dit moeilik om te glo en nog moeiliker om aan te hou bid.

Die ure van die dag is nie genoeg om by elke grensdraad uit te kom,

maar tog altyd genoeg om die veldblomme voor die plaashuis te sien blom.

Nou gaan lê die stof en die son se ure loop uit

en is daar net genoeg tyd vir n koppie boeretroos om die dag mee af te sluit.

2 Replies to “Boere(troos)”

Leave a Reply to Jolene Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *