Gedigte

(Saam)uel

Ek ken ‘n Samuel,
maar… ek dink jy ook.
Samual het lank terug stad toe gekom saam met sy vrou en drie maande oue baba
opsoek na ‘n geleentheid,
maar “geleenthede voel nie altyd om gevind te word nie” sê Samuel.
Nou verkoop hy Huisgenote op die hoek van Kerk- en Duboustraat.
Hy is nie ‘n praterig ou nie en as jy vra hoe dit gaan, gaan dit altyd “goed goed madam”
asof sy antwoord so kunsmatig gevorm is soos my vraag
en so asof baie hom dié vraag vra en hy nie weet wat om op enige ander antwoord terug te verwag nie.
Samual ken vir God en hy glo dat die lesers van Huisgenoot ook doen.
Samual kom nie straat toe op Sondae nie want sy seun Sammy speel sokker vir die primary school.

Soggens is ek haastig en wens ek Samuel was nie daar nie,
smiddae soek my oë hom
tussen al die Kerkstraat advertensieborde
en karre wat oor geel ligte jaag.
Samuel verkoop ook draad teelepeltjies en eenvoudige sleutelhouers
want dinge is duur in die stad en ‘n taxi terug huis toe ook.
Vandag val die misreën ‘n hartseer gesig op my voorruit
want dis Donderdag, maar Samuel is nie hier met ‘n hoop Huisgenote nie.
Samuel en die mense van sy buurt het hulle huise in ‘n brand verloor –
sê die sewe-uur nuushooftreke op die radio in my kar
en saam met dit, weet ek, die bietjie future wat hy vir Sammy op Godgeleënde tyd aanmekaar gesit het ook!
Dalk voel geleenthede nie altyd om gevind te word nie,
maar diè een het weggehol Samuel
en ek het jou gesien ‘n goeie atleet wees.

Ek mis jou goue teelepels en “goed goed madam” by my venster
en ek mis jou glimlag as ek vir jou sê dat daar geen reën vir Sondag voorspel word nie.
Ek het in learskool laas deur ‘n tydskrif geblaai,
maar vandag lees ek sommer ‘n Huisgenoot.
Net om te sien of daai mense God ken op die manier wat ek en jy vir God ken.
Net om te sien of daar weghol geleenthede soos A3 plakkate in die middel is
vir my om uit te skeur en in ‘n koevert te sit vir jou.
Net om te sien waar al die good stuff in die wêreld is wat jy altyd as smiles gedra het.
Om te sien of daar sokkernuus is
en of die taxi stakings al bedaar het soos jy staan en voorspel het laasweek.
Vandag koop ek ‘n Huisgenoot want wat anders moet ek met die R50 kontant doen wat ek getrek het?
Soms wil geleenthede eenvoudig nie gevind word nie
en soms wonder ek hoe Kerkstraat en die misreën op my ruit sou lyk
as almal vir jou kon sien met dieselfde oë wat jy na die wêreld kyk.
(c)
j.s.s
2021.07.18

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *