Twee kg suiker en twee kg tamaties is die resep vir tamatiekonfyt sê jy, terwyl jy draaie om my kombuis loop en jou beste resepte vir jouself hou.
Ek kan nie kos maak nie, maar ek weet minstens waar my stoof se knoppe sit en hoeveel ure dit neem om die suur uit tamaties te kook. Ek het die enigste resepteboek wat ek besit van voor tot agter deurgeblaai, maar nêrens is ‘n resep vir ‘n geurige vriendskap. Dalk het mense, wat lief is vir kook, nie tyd om vriendskappe ook aanmekaar te slaan, of dalk is vriendskap nie net ‘n dis op die tafel nie, maar die hele gedoente van saam eet.
Ek sou die wêreld in ‘n Pyrex bak vir jou kon voorsit as jy my uitnodiging aanvaar het. Ek sou twee dae daarna nog skottelgoed was en spartel om die suur tamatiereuk uit my kombuis te kry, net om jou aan my tafel te sien sit.
Vanaand is die stoele in my eetkamer so leeg soos jou verskoning en ek wens daar was ‘n nagereg soet genoeg om my bitter hart mee te versadig, maar die wêreld is net so honger soos wat dit mal is en liefde maak mens mos blind en die klits kwyt en wat maak ek met twee kg oorryp tamaties as ek self nie eers hou van tamatiekonfyt? (c) j.s.s 2021.06.27