Gedigte

Si(e)lhouette

Iewers onder dié vel wat ja – so dik is,
is ‘n siel wat soek om te verstaan.
‘n Siel wat deel en gee sonder rekenskap
en wat liefhet nie om terug liefde te ontvang.
‘n Siel wat verdwaal tussen geroesde deurkosynne
en plafonne wat lek,
omdat die rekening vir herstel lank reeds agterstallig is.

Binne hierdie hygende soektog is ‘n siel wat wonder
hoekom harte nie kom om te bly nie
en wat breek elke keer as ‘n jammer diepte verloor.
Een wat in die wolke eerder as deur die weer wil wees.
Een wat nooit ophou hoop en altyd aanhou met bid
vir elke singende en elke slapende siel
en wat brand net om deel te neem!

Onder dié vel is ‘n siel versteek
in laataand ideale en bruin koffiekringe
op ‘n houttafel wat verniet vernis geraak het.
Hier is ‘n siel wat wil glo dat liefde nie seermaak nie,
maar slegs diegene wat nie oor dit beskik nie.
Iewers hier lê ‘n siel en wonder of ek die afdraai gemis het
wat lei na asem skep en vars oggenddou
en of velle – dik of nie –
eintlik net daar is om siele van die verdwaal te weerhou.
(c)
j.s.s
2021.04.03

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *