Familie is feitlik wat jy het as die skaak van die lewe die pionne rondom jou opeet. Familie is ‘n ma wat seker maak jou sokkies bly in pare en dat jy onthou om jou koffie te drink voor dit koud word. Familie is ‘n pa wat na ‘n lang week sy enigste laatslaap oggend prysgee om die dag saam sy familie n uur langer te maak. Familie is die troeteldiere – twee honde dalk wat elkeen hulle eie maniere en gewoontes geleer is met tyd waaraan memories soos kersboomversierings hang.
Familie is die bankie langs die pad oppad see toe en die allerdaagse gesprekke oppad na die naaste vulstasie. Dit is elke Sondagmiddag draairoomys en elke wilde Maandagoggend geskarrel. Familie is die manier wat jy die ‘Wat is vout?’-vraag met ‘n paar tranerige oë kan beantwoord. Dit is die vier mure en ses skouers waar die meeste van jou trane al opgedroog het. Dit is elke verjaarsdag en elke huweliksherdenking – elke prysuitdeling en elke sportbyeenkoms.
Familie is die ‘world of words’ wat jy in geen woordeboek sal opspoor nie want papier verweer met bloed, sweet en trane maar wanneer harte en drome soos ou boeke uitmekaarval is familie die vertroude paar arms wat jou ongetwyfeld sal vang.