Gedigte

Suikersakkie gesegdes

As ek jou nog een keer kon sien,
sou ek dalk verstaan
hoekom twee koffies beter as een proe
vir iemand wat nooit koffie drink nie
en hoekom vyfuur nie saam
met die son gesak het nie.

Ek sou dalk besef hoekom die dag,
ons toekoms en jou oë ewe blou was
en hoekom dit Ross en Rachel
drie-en-twintig episodes geneem het
om ook te verstaan.

As daar nog ‘n Maandagmiddag koffie kon wees
en twee ure van woorde vol gate,
sou ek dalk verstaan
hoekom closure net ‘n ry voetspore
in ‘n besige parking lot is
en hoekom Hulletts se gesegdes
soveel soeter klink wanneer jy verbitterd is.

Ek wou my gevoelens soos my laaste slukkie koffie wegdrink
en my hart saam my leë koppie kant toe skuif.
Ek wou weet hoekom daar ‘n ‘end’ binne ‘friends’ is
en hoekom party mense se gevoelens
dit nooit verby ‘n light meal maak nie,
maar uit alle drome moet jy wakker word of -skrik
en ‘Alles gaan okey wees’ is bladsy een van ‘Hoe generies kan ek wees?’.

Mag jy jou Rachel vind in die hede,
Saterdagaande los in die verlede
en verslaap soos jy vashou aan jou drome,
want die son het eintlik te vroeg ophou op ons skyn
en die woorde agter-op jou sakkie
het saam met die suiker in jou koffie verdwyn.
(c)
j.s.s
2021.03.24

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *