Jesaja 41

Ek hoop dat jy jou oë toemaak en bid
vir elke blou Maandagoggend
en elke laatslaap Saterdag,
vir elke toebroodjie wat jy eet
al het jy dit nie self gemaak nie.
Ek hoop jy bid vir elke persoon
wat klere vir die kinderhuis skenk
en vir elke boemelaar wat al ooit
aan jou kar se venster geklop het.
Ek hoop dat jy jou oë toemaak
en jou Here ken in jou gebed.

Ek hoop ook dat jy jou oë opnuut oopmaak
sodat jy daagliks die wolke kan waardeer
en weet dis daar waar jou drome dryf.
Ek hoop dat, wanneer dit reën,
jy sorgeloos en kaalvoet dans
tot die water van jou hare af drup
en jou enkels bruin is van die modder
en wanneer jou drome so groot is
dat die reën die plaaspad verspoel…
hoop ek jy glimlag met die wete
dat jy op die regte pad is.

Ek hoop dat jy met elke sonsak besef
dat jou drome geen horisonne ken nie
en wanneer die sterre die hemel versier,
hoop ek jy sien die droom
wat op elke ster geskryf staan
en hoe mooi die donker is
omdat jou drome helder skyn.

Ek hoop jy vang elke reëndruppel
wat mik om op jou kop te val
en wens op elke ster wat jou oë kan vind
en wanneer jy vrees vir die son se hitte
of die hemel se hoogte,
hoop ek jy gryp jou Jesaja 41
en reik na jou drome op die skouers van Sy wind.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *