Tien teen een

  • Opgedra aan my boetie – een van die slimste en stilste mense wat ek ken

Daar word gesê dat mens slegs tien persent van jou brein gebruik
en dat genieë oor generasies heen, almal tekens van absurdheid toon,
maar jy vra vanaand: “Wie het ‘normaal’ en ‘mal’ verwoord en gedefinieer?”
“Wie het besluit dat sewentienjariges IK- en aanlegtoetse moet skryf
en wie het gesê dat wiskunde en jou oorsig daartoe die volheid
van jou salarisstrokie bepaal?”

Daar word dalk gesê dat mens net tien persent van jou brein gebruik
en daar word dalk aan jou verduidelik dat jy ‘n praktiese student is
omdat jy nie wiskunde cum nie,
maar normaal is net normaal omdat ons almal glo dat ons dit is.
Jou brein raak versigtig kragtig wanneer jy aanhou
om dit, wat aannames vir ander is, te bevraagteken.

Jou salaris sal nooit meer as net papier wees nie.
Die hoeveelheid lewensgeluk waarmee jy jouself vergoed
elke maand, elke dag, elke oomblik
word deur jouself bepaal en betaal – vat ‘n voorskot,
gee jouself ‘n verhoging – want wie kan jou keer?
Jou geluk word nie deur ‘n persentasieteken aangetoon nie
en jy is wyser as die platgepraatte term
waarna die wêreld jou forseer!
Jou tien persent is net tien persent as jy vasklou aan klassifikasie
wat deur ‘n ongeklassifiseerde individu bepaal is.

Vokkit, jy is soveel meer –
mèèr as die idee wat die wêreld van jou wou vorm,
mèèr as ‘n persentasie wat geluk mee- en teenvoer
en mèèr as wat enige koerantartikel of aanlegtoets
ooit vir jouself van jouself kan vertel.

Mag jy floreer ver buite die blik van normalisasie
en mag jy wêrelde wat buite ons dae bestaan
stukkend bliksem met jou brein

want tien persent definieer jou nie!
j.s.s.
2021.02.02

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *