Elke huis het sy drumpel

Om bang te wees vir alleenheid is okey.
Mens moet eers kyk hoe al jou mense jou op 17 verlaat
en jy alleen jou skool se matriek-en-ouer-erediens moet bywoon,
voor jy besef hoe sag samekoms werklik kan wees.

Om bang te wees vir verandering is okey.
Mens moet eers elke oggend wakker SKRIK
van n kamerdeur wat met geweld oopgeruk word,
voor jy met jou hele hart na n standvastige roetine begin smag.

Om bang te wees vir afwagtende en oordonderende situasies is okey
want mens moet eers vir jare jou ore laat breek,
voor jy besef hy gaan nooit sagter praat nie,
net soos jy nooit weer sal kan ophou om jou naels te byt nie…

Om bang te wees vir die weg-breek is ook okey.
Elke mens is n huis en elke huis het sy drumpel.
Daardie dag vat jy jou goed, al is jy nie Ferreira nie,
en jy trek!

Trek weg van sy selfsug en sy koue gemoed.
Trek weg van sy harde stem en sy humeur.
Trek weg onder sy hand van beheer
en dwing jouself, net die een keer,
om te vertrou op dit wat kom
en dit wat jý kies…
Jou keuses is immers gebasseer op alles
wat jy reeds weet jy nie wil hê nie.

Jy sal vinnig leer dat sagter stemme baie mooier dinge sê
en dat jy vreugde daaruit kan put om weer lang naels te hê.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *