• Gedigte

    Twee

    Twee kg suiker
    en twee kg tamaties
    is die resep vir tamatiekonfyt sê jy,
    terwyl jy draaie om my kombuis loop
    en jou beste resepte vir jouself hou.

    Ek kan nie kos maak nie,
    maar ek weet minstens waar my stoof se knoppe sit
    en hoeveel ure dit neem om die suur uit tamaties te kook.
    Ek het die enigste resepteboek wat ek besit
    van voor tot agter deurgeblaai,
    maar nêrens is ‘n resep vir ‘n geurige vriendskap.
    Dalk het mense, wat lief is vir kook,
    nie tyd om vriendskappe ook aanmekaar te slaan,
    of dalk is vriendskap nie net ‘n dis op die tafel nie,
    maar die hele gedoente van saam eet.

    Ek sou die wêreld in ‘n Pyrex bak vir jou kon voorsit
    as jy my uitnodiging aanvaar het.
    Ek sou twee dae daarna nog skottelgoed was
    en spartel om die suur tamatiereuk uit my kombuis te kry,
    net om jou aan my tafel te sien sit.

    Vanaand is die stoele in my eetkamer
    so leeg soos jou verskoning
    en ek wens daar was ‘n nagereg soet genoeg
    om my bitter hart mee te versadig,
    maar die wêreld is net so honger soos wat dit mal is
    en liefde maak mens mos blind en die klits kwyt
    en wat maak ek met 2 kg oorryp tamaties
    as ek self nie eers hou van tamatiekonfyt.
    (c)
    j.s.s
    2021.06.027