-
‘n Hou vir n hou los almal ewe stukkend
Die hou binne verhouding is nie veronderstel om seer te wees nie.
‘n Oog vir ‘n oog maak die wêreld blind
en ‘n hou vir ‘n hou los ons almal ewe stukkend.
As jy slaan, slaan jou oë opwaarts na die berge
en as jy al ooit ‘n hou moes vat,
hoop ek jy het dit afgeskryf
en nie weer uitgedeel nie.
Die hou binne verhouding moet wees vir vashou –
want liefde is mooi en mense voel eenvoudig mooier
met ‘n tweede paar arms om hulle.
Die hou binne verhouding moet wees vir aanhou –
want leë woonstelle en nuwe beginne word vinnig gevul
met memories en meubels na jou smaak
as jy ophou daaraan dink om op te hou…
Die hou binne verhouding moet wees vir uithou
en sambreel soek wanneer dit trane reën
want elke reënbui bring ‘n reënboog
en soms kort jou lewe kleur.
Hou op om jou verhouding met jou bure te vergelyk
en met jou kollega te bespreek.
Moet nie vandag ‘n hou uitdeel as jy nie met gemak
aan die anderkant van die vuis kan staan nie
en moet nie ophou om jouself te herinner
aan alles waarvan jy hou van daardie persoon.
Maak seker jou verhouding is houloos
en nie hopeloos nie.
Maak seker jou verhouding is wat jou bo hou
wanneer die lewe golwe maak
en maak seker dat die sekuriteit wat jy daaruit put
gelyk breek met die rekening wat jou hart betaal,
want die hou binne verhouding
is nie veronderstel om enige seer agter te los
en rooi kneukels en blou wangbene
is nié die prys wat ‘n verhouding veronderstel is om te kos.
(c)
j.s.s
2021.05.01 -
(Hoër)ison
Ek wil elke dag vir die vyf-uur son sit en frons
terwyl hy in die takke van hierdie bome kom vassit.
Ek wil die melkweg shutter
sodat daar genoeg shooting stars is
vir al die wense wat die kinders op Aarde voor bid.
Ek wil elke aand wonder
wat die man op die maan aanvang
en of ek ook leef in sy kop.
Ek wil al die ek-wou-nogs in ‘n omgeploegde land plant
en hoop die oomblikke kom op.
Ek wil die bosveld se verste hoeke omkeer
die nate van die reënboog met modder besmeer
die begin van die grootpraat-horison gaan uitgrou
maar dit alles klink boring
as ek dit moet doen sonder jou.
(c)
j.s.s
2021.05.08 -
Nor(mal)isasie
-
Si(e)lhouette
Iewers onder dié vel wat ja – so dik is,
is ‘n siel wat soek om te verstaan.
‘n Siel wat deel en gee sonder rekenskap
en wat liefhet nie om terug liefde te ontvang.
‘n Siel wat verdwaal tussen geroesde deurkosynne
en plafonne wat lek,
omdat die rekening vir herstel lank reeds agterstallig is.
Binne hierdie hygende soektog is ‘n siel wat wonder
hoekom harte nie kom om te bly nie
en wat breek elke keer as ‘n jammer diepte verloor.
Een wat in die wolke eerder as deur die weer wil wees.
Een wat nooit ophou hoop en altyd aanhou met bid
vir elke singende en elke slapende siel
en wat brand net om deel te neem!
Onder dié vel is ‘n siel versteek
in laataand ideale en bruin koffiekringe
op ‘n houttafel wat verniet vernis geraak het.
Hier is ‘n siel wat wil glo dat liefde nie seermaak nie,
maar slegs diegene wat nie oor dit beskik nie.
Iewers hier lê ‘n siel en wonder of ek die afdraai gemis het
wat lei na asem skep en vars oggenddou
en of velle – dik of nie –
eintlik net daar is om siele van die verdwaal te weerhou.
(c)
j.s.s
2021.04.03