-
Instagram
-
Suikersakkie gesegdes
As ek jou nog een keer kon sien,
sou ek dalk verstaan
hoekom twee koffies beter as een proe
vir iemand wat nooit koffie drink nie
en hoekom vyfuur nie saam
met die son gesak het nie.
Ek sou dalk besef hoekom die dag,
ons toekoms en jou oë ewe blou was
en hoekom dit Ross en Rachel
drie-en-twintig episodes geneem het
om ook te verstaan.
As daar nog ‘n Maandagmiddag koffie kon wees
en twee ure van woorde vol gate,
sou ek dalk verstaan
hoekom closure net ‘n ry voetspore
in ‘n besige parking lot is
en hoekom Hulletts se gesegdes
soveel soeter klink wanneer jy verbitterd is.
Ek wou my gevoelens soos my laaste slukkie koffie wegdrink
en my hart saam my leë koppie kant toe skuif.
Ek wou weet hoekom daar ‘n ‘end’ binne ‘friends’ is
en hoekom party mense se gevoelens
dit nooit verby ‘n light meal maak nie,
maar uit alle drome moet jy wakker word of -skrik
en ‘Alles gaan okey wees’ is bladsy een van ‘Hoe generies kan ek wees?’.
Mag jy jou Rachel vind in die hede,
Saterdagaande los in die verlede
en verslaap soos jy vashou aan jou drome,
want die son het eintlik te vroeg ophou op ons skyn
en die woorde agter-op jou sakkie
het saam met die suiker in jou koffie verdwyn.
(c)
j.s.s
2021.03.24 -
(Saam)uel
Ek ken ‘n Samuel,
maar… ek dink jy ook.
Samual het lank terug stad toe gekom saam met sy vrou en drie maande oue baba
opsoek na ‘n geleentheid,
maar “geleenthede voel nie altyd om gevind te word nie” sê Samuel.
Nou verkoop hy Huisgenote op die hoek van Kerk- en Duboustraat.
Hy is nie ‘n praterig ou nie en as jy vra hoe dit gaan, gaan dit altyd “goed goed madam”
asof sy antwoord so kunsmatig gevorm is soos my vraag
en so asof baie hom dié vraag vra en hy nie weet wat om op enige ander antwoord terug te verwag nie.
Samual ken vir God en hy glo dat die lesers van Huisgenoot ook doen.
Samual kom nie straat toe op Sondae nie want sy seun Sammy speel sokker vir die primary school.Soggens is ek haastig en wens ek Samuel was nie daar nie,
smiddae soek my oë hom
tussen al die Kerkstraat advertensieborde
en karre wat oor geel ligte jaag.
Samuel verkoop ook draad teelepeltjies en eenvoudige sleutelhouers
want dinge is duur in die stad en ‘n taxi terug huis toe ook.
Vandag val die misreën ‘n hartseer gesig op my voorruit
want dis Donderdag, maar Samuel is nie hier met ‘n hoop Huisgenote nie.
Samuel en die mense van sy buurt het hulle huise in ‘n brand verloor –
sê die sewe-uur nuushooftreke op die radio in my kar
en saam met dit, weet ek, die bietjie future wat hy vir Sammy op Godgeleënde tyd aanmekaar gesit het ook!
Dalk voel geleenthede nie altyd om gevind te word nie,
maar diè een het weggehol Samuel
en ek het jou gesien ‘n goeie atleet wees.Ek mis jou goue teelepels en “goed goed madam” by my venster
en ek mis jou glimlag as ek vir jou sê dat daar geen reën vir Sondag voorspel word nie.
Ek het in learskool laas deur ‘n tydskrif geblaai,
maar vandag lees ek sommer ‘n Huisgenoot.
Net om te sien of daai mense God ken op die manier wat ek en jy vir God ken.
Net om te sien of daar weghol geleenthede soos A3 plakkate in die middel is
vir my om uit te skeur en in ‘n koevert te sit vir jou.
Net om te sien waar al die good stuff in die wêreld is wat jy altyd as smiles gedra het.
Om te sien of daar sokkernuus is
en of die taxi stakings al bedaar het soos jy staan en voorspel het laasweek.
Vandag koop ek ‘n Huisgenoot want wat anders moet ek met die R50 kontant doen wat ek getrek het?
Soms wil geleenthede eenvoudig nie gevind word nie
en soms wonder ek hoe Kerkstraat en die misreën op my ruit sou lyk
as almal vir jou kon sien met dieselfde oë wat jy na die wêreld kyk.
(c)
j.s.s
2021.07.18 -
Ek en jy
As ons ooit die kleur van mekaar se oë
kan beskryf sonder n vergelyking
en as ons ooit mekaar se aanraking kan uitken
tussen menigde ander…
As ons ooit verlief raak
ek en jy
moet ons dit wegsteek
sodat net twee rou harte en die see
daarin deel.
As ons ooit verlief raak
moet ons nie ophou
om die duiwe op my bure se dak name te gee
soos ons gedoen het toe ons tieners was
en moet ons nie ophou
om ons Rolo blokkies met mekaar te deel
soos in die eerste dae van net vriende wees.
As ons ooit verlief raak
ek en jy
moet ons ons liefde in die seesand begrawe
waar die wêreld se wind van selfsug dit nie kan kry
en die see haar golwe herhaaldelik sal uitspoeg en terugroep
oor die sprokie van jou en my.
(c)
j.s.s
2021.07.01 -
Jesaja 41