• Gedigte

    Biltong in die wildtuin

    Ek sit met my hart op my skoot en biltong in my hand
    want die pad natuur toe is doners ver as jy in die stad bly.
    Ek fynkam die ruigtes en velde soos ek saans sy hare uitgeborsel het en ek wonder of bokke die winter uitken aan die vermindering in spore…
    Ek voel hoe die Desemberson my voorkop pla en besef weereens hoe erg biltong ‘n mens se asem laat stink.
    Dit is ironies hoe mense die nut van ‘n dier aan die seisoen in hulle lewe koppel
    want dieselfde lens waarmee ek die dier bewonder, is in sy jaggeweer as hy mik en skiet.

    Die eerste koedoe is kort kilos diskant die hek en my verkyker het fokus ingeneem op die draai van sy horings.
    Ek staar na elke horing en aam die verskille.
    Die perfekte verskille.
    Hoekom is verskille nooit vir mense perfek nie en hoekom hang die reuk van pasafgeweerde koeëls aan my lippe?

    Ek besef meteens dat die vrede wat hier wei nie my hart in my bors gaan terugstoot nie en dat ek volgende keer meer water moet inpak.
    Menselewens draai soos koedoehorings – myne is ‘n ooi.
    Ses maande na die jagseisoen kyk ek na hierdie berge en ek wonder of die mankolieke omvang van hoop ook seisoenaal is.
    Wat is ‘n bok dan nou eintlik as hy in ‘n bruin papiersak pas en wie het besluit dat leeus in dieselfe kamp as die koedoes sal hoort.

    Vir sommiges is bokke bewondering en vir ander ‘n versnapering.
    Ek sit met beide en skielik ook met moerse tandpyn.
    Hoekom sit mense in Rangers en eet biltong in die wildtuin?
    (c)
    j.s.s.
    2021.01.17

  • Gedigte

    As rankrose grond toe groei

    Daar word vertel dat liefde ‘n saadjie is wat jy koester en omarm soos ‘n jong orgidee
    En wat groei met elke wonder wat daar moontlik te skuile is in Tyd homself.
    Daar word vertel dat mens moet blom waar jy geplant is met wortels wat klou aan verbreedte mondhoeke en vingers wat deur uitgekamde hare vleg.
    Dat dit soggens soos ‘n sonneblom die lig soek wat binne twee afsonderlike harte opkom en dat die benydende gawe van gee, die water vir die blare is.
    Daar word vertel dat liefde ‘n saadjie is – ‘n rooiwyn roos.

    Maar daar word nie vertel dat liefde soms wilde veldblomme of ongesnoeide Icebergs is nie.
    Daar word nie vertel dat liefde grond vir groei nodig het en dat die grond eintlik net korrels van jou siel is nie.
    Ja, hulle waarsku jou nie teen die ontkiemingsproses wat moet plaasvind lank voor jou saailing kan fotosinteer en floreer nie.
    Dit is eers wanneer jy die saadjie in jou hand hou en jou oë op die oorkantse ligbron rig en twee strale bymekaarkom dat jy weet dis dagbreek…
    en dan maak albei soos boontjies wat deur ‘n afwagtende agtjarige in twee lae watte geplant is.

    Jy breek – onophoudelik en sorgeloos jou siel stukkie vir stukkie af
    om die saadjie te voed nog lank voor jy weet watter plant jy kweek…
    Tot jou hart afwater
    en die ligstrale ondergaan
    en al wat oorbly
    is die dorings
    wat jou konsep van liefde
    onherroeplik
    stukkend
    steek.
    (c)
    j.s.s.
    2021.01.16

  • Gedigte

    Swart

    Ek sluk die laaste bietjie klamheid van my mond in my keel af.
    Ek wil skree maar my stem het onder in my longe gaan lê.
    Hoekom?
    Hoekom het jy pronkend voor my potlood en papier kom lê as ek jou nie mag skilder nie?
    Hoekom is die skets wat ek van jou gesig het, sonder kuiltjies en plooie al het ek telke male die regte beeld voor my gehad?
    Vanaand is my potlood te swaar om op te tel en my tekenvelle is gevlek.
    Ek stop by elke spieel om te kyk of jy agter my staan, of jou hande dalk op my skouers of heupe rus en ek dit net nie voel nie.
    Ek loop by my kunskamer in en ek loop weer uit want my verf is droog en my potlood stomp.
    Die gedagte van jou is buitelyne met swak skakering.
    Ek kan dit amper nie meer sien nie, maar ek kan dit skree.
    Ek kan skree van elke keer wat jou hande in my hare was en van strate op n klein oos-kaapse dorpie waar strome herinneringe soos September reën wegvloei.
    Ek kan die name van die plekke waar jou voetspore nou nog langs myne kuier uitskree in die volgorde soos ons gereis het.
    Ek kan skree van elke koppie cheap koffie wat ons saam in n flat sonder sitkamerbanke gedrink het.
    Ek kan skree van elke bynaam wat ons opgemaak het en van liedjies waarvan die lirieke eens lewend was.
    Ek kan skree met elke stukkie van my hart wat nou hier op die vloer tussen hierdie meubels lê en bloei.
    Ek kan!
    Maar ek gaan nie.
    Want jy het my tekenwerk uitgevee en jou ore doofgemaak vir krete wat teen liggaamsmure uitklim
    en ek gaan moet besef dat nie eens die beste kunstenaar n swart hart kan inkleur nie.
    (c)
    j.s.s
    2021.01.14