• Gedigte

    When the well’s dry

    (Spesiale dank aan Tanya Abrie, ‘n goeie vriendin wat my geboortedag en baie tienerherinneringe saam my deel, vir haar bydrae tot hierdie gedig)

    Ek was vertrou met die volgorde waarin die reeks sou verloop.
    Iewers in my geheue het dit stadig maar seker ontknoop.
    Jy word hierdie dinge geleer: die gegewes, konstantes en die definisies,
    maar tog weet niemand méér as net wat dit is nie.

    Ek is ingehok deur oggenddou, opgesluit in n ewig-veranderende momentum.
    Party skep emmers vol – ek skep asem.
    Woorde, met die krag van verandering, lê en heers
    oor die tyd wat aanstap – tevergeefs.
    Sonder ‘n stem en ‘n wil om na iets buite die blik van norm te gryp.
    Jy moet leer swem, anders gaan jy versuip!

    Die uitkykpunte langs die pad kom soos die hart se lub dub
    en elke poging om te loer is ‘n rebelse druppel wat uit liters water drup.
    Elke druppel moontlike menswees – ‘n waterval in wording.
    Kan jy al swem, of gaan jy verdrink by die monding?

    Almal dig oor die einde met geen belang oor die begin
    en my perspektief waak oor meer as net om daarin te ontgin.
    Jare lank al grawe ons na goue klippies en die tafel onder die grond
    en met n been in die graf voel ons, ironies genoeg, aards en gesond…
    Dis n droeë wêreld dié van graniet en metaal,
    maar n goeie swemmer weet hoe en wanneer om asem te haal.

    Ons is almal te laat gebore in ‘n wêreld wat haar omgee laat opdroog in haar soeke na meer
    en net hier en daar is spatsels mense wat leer hoe om die golwe van die lewe te trotseer.

    https://clearcomfort.com/blog/how-to-overcome-aquaphobia/
  • Gedigte

    Ver(ander)ing

    Om bang te wees vir alleenheid is okey.
    Mens moet eers kyk hoe al jou mense jou op 17 verlaat
    en jy alleen jou skool se matriek-en-ouer-erediens moet bywoon,
    voor jy besef hoe sag samekoms werklik kan wees.

    Om bang te wees vir verandering is okey.
    Mens moet eers elke oggend wakker SKRIK
    van n kamerdeur wat met geweld oopgeruk word,
    voor jy met jou hele hart na n standvastige roetine begin smag.

    Om bang te wees vir afwagtende en oordonderende situasies is okey
    want mens moet eers vir jare jou ore laat breek,
    voor jy besef hy gaan nooit sagter praat nie,
    net soos jy nooit weer sal kan ophou om jou naels te byt nie…

    Om bang te wees vir die weg-breek is ook okey.
    Elke mens is n huis en elke huis het sy drumpel.
    Daardie dag vat jy jou goed, al is jy nie Ferreira nie,
    en jy trek!

    Trek weg van sy selfsug en sy koue gemoed.
    Trek weg van sy harde stem en sy humeur.
    Trek weg onder sy hand van beheer
    en dwing jouself, net die een keer,
    om te vertrou op dit wat kom
    en dit wat jý kies…
    Jou keuses is immers gebasseer op alles
    wat jy reeds weet jy nie wil hê nie.

    Jy sal vinnig leer dat sagter stemme baie mooier dinge sê
    en dat jy vreugde daaruit kan put om weer lang naels te hê.