-
(Saam)uel
Ek ken ‘n Samuel,
maar… ek dink jy ook.
Samual het lank terug stad toe gekom saam met sy vrou en drie maande oue baba
opsoek na ‘n geleentheid,
maar “geleenthede voel nie altyd om gevind te word nie” sê Samuel.
Nou verkoop hy Huisgenote op die hoek van Kerk- en Duboustraat.
Hy is nie ‘n praterig ou nie en as jy vra hoe dit gaan, gaan dit altyd “goed goed madam”
asof sy antwoord so kunsmatig gevorm is soos my vraag
en so asof baie hom dié vraag vra en hy nie weet wat om op enige ander antwoord terug te verwag nie.
Samual ken vir God en hy glo dat die lesers van Huisgenoot ook doen.
Samual kom nie straat toe op Sondae nie want sy seun Sammy speel sokker vir die primary school.Soggens is ek haastig en wens ek Samuel was nie daar nie,
smiddae soek my oë hom
tussen al die Kerkstraat advertensieborde
en karre wat oor geel ligte jaag.
Samuel verkoop ook draad teelepeltjies en eenvoudige sleutelhouers
want dinge is duur in die stad en ‘n taxi terug huis toe ook.
Vandag val die misreën ‘n hartseer gesig op my voorruit
want dis Donderdag, maar Samuel is nie hier met ‘n hoop Huisgenote nie.
Samuel en die mense van sy buurt het hulle huise in ‘n brand verloor –
sê die sewe-uur nuushooftreke op die radio in my kar
en saam met dit, weet ek, die bietjie future wat hy vir Sammy op Godgeleënde tyd aanmekaar gesit het ook!
Dalk voel geleenthede nie altyd om gevind te word nie,
maar diè een het weggehol Samuel
en ek het jou gesien ‘n goeie atleet wees.Ek mis jou goue teelepels en “goed goed madam” by my venster
en ek mis jou glimlag as ek vir jou sê dat daar geen reën vir Sondag voorspel word nie.
Ek het in learskool laas deur ‘n tydskrif geblaai,
maar vandag lees ek sommer ‘n Huisgenoot.
Net om te sien of daai mense God ken op die manier wat ek en jy vir God ken.
Net om te sien of daar weghol geleenthede soos A3 plakkate in die middel is
vir my om uit te skeur en in ‘n koevert te sit vir jou.
Net om te sien waar al die good stuff in die wêreld is wat jy altyd as smiles gedra het.
Om te sien of daar sokkernuus is
en of die taxi stakings al bedaar het soos jy staan en voorspel het laasweek.
Vandag koop ek ‘n Huisgenoot want wat anders moet ek met die R50 kontant doen wat ek getrek het?
Soms wil geleenthede eenvoudig nie gevind word nie
en soms wonder ek hoe Kerkstraat en die misreën op my ruit sou lyk
as almal vir jou kon sien met dieselfde oë wat jy na die wêreld kyk.
(c)
j.s.s
2021.07.18 -
Ek en jy
As ons ooit die kleur van mekaar se oë
kan beskryf sonder n vergelyking
en as ons ooit mekaar se aanraking kan uitken
tussen menigde ander…
As ons ooit verlief raak
ek en jy
moet ons dit wegsteek
sodat net twee rou harte en die see
daarin deel.
As ons ooit verlief raak
moet ons nie ophou
om die duiwe op my bure se dak name te gee
soos ons gedoen het toe ons tieners was
en moet ons nie ophou
om ons Rolo blokkies met mekaar te deel
soos in die eerste dae van net vriende wees.
As ons ooit verlief raak
ek en jy
moet ons ons liefde in die seesand begrawe
waar die wêreld se wind van selfsug dit nie kan kry
en die see haar golwe herhaaldelik sal uitspoeg en terugroep
oor die sprokie van jou en my.
(c)
j.s.s
2021.07.01 -
Jesaja 41
-
Biltong in die wildtuin
Ek sit met my hart op my skoot en biltong in my hand
want die pad natuur toe is doners ver as jy in die stad bly.
Ek fynkam die ruigtes en velde soos ek saans sy hare uitgeborsel het en ek wonder of bokke die winter uitken aan die vermindering in spore…
Ek voel hoe die Desemberson my voorkop pla en besef weereens hoe erg biltong ‘n mens se asem laat stink.
Dit is ironies hoe mense die nut van ‘n dier aan die seisoen in hulle lewe koppel
want dieselfde lens waarmee ek die dier bewonder, is in sy jaggeweer as hy mik en skiet.Die eerste koedoe is kort kilos diskant die hek en my verkyker het fokus ingeneem op die draai van sy horings.
Ek staar na elke horing en aam die verskille.
Die perfekte verskille.
Hoekom is verskille nooit vir mense perfek nie en hoekom hang die reuk van pasafgeweerde koeëls aan my lippe?
Ek besef meteens dat die vrede wat hier wei nie my hart in my bors gaan terugstoot nie en dat ek volgende keer meer water moet inpak.
Menselewens draai soos koedoehorings – myne is ‘n ooi.
Ses maande na die jagseisoen kyk ek na hierdie berge en ek wonder of die mankolieke omvang van hoop ook seisoenaal is.
Wat is ‘n bok dan nou eintlik as hy in ‘n bruin papiersak pas en wie het besluit dat leeus in dieselfe kamp as die koedoes sal hoort.Vir sommiges is bokke bewondering en vir ander ‘n versnapering.
Ek sit met beide en skielik ook met moerse tandpyn.
Hoekom sit mense in Rangers en eet biltong in die wildtuin?
(c)
j.s.s.
2021.01.17 -
As rankrose grond toe groei
Daar word vertel dat liefde ‘n saadjie is wat jy koester en omarm soos ‘n jong orgidee
En wat groei met elke wonder wat daar moontlik te skuile is in Tyd homself.
Daar word vertel dat mens moet blom waar jy geplant is met wortels wat klou aan verbreedte mondhoeke en vingers wat deur uitgekamde hare vleg.
Dat dit soggens soos ‘n sonneblom die lig soek wat binne twee afsonderlike harte opkom en dat die benydende gawe van gee, die water vir die blare is.
Daar word vertel dat liefde ‘n saadjie is – ‘n rooiwyn roos.Maar daar word nie vertel dat liefde soms wilde veldblomme of ongesnoeide Icebergs is nie.
Daar word nie vertel dat liefde grond vir groei nodig het en dat die grond eintlik net korrels van jou siel is nie.
Ja, hulle waarsku jou nie teen die ontkiemingsproses wat moet plaasvind lank voor jou saailing kan fotosinteer en floreer nie.
Dit is eers wanneer jy die saadjie in jou hand hou en jou oë op die oorkantse ligbron rig en twee strale bymekaarkom dat jy weet dis dagbreek…
en dan maak albei soos boontjies wat deur ‘n afwagtende agtjarige in twee lae watte geplant is.Jy breek – onophoudelik en sorgeloos jou siel stukkie vir stukkie af
om die saadjie te voed nog lank voor jy weet watter plant jy kweek…
Tot jou hart afwater
en die ligstrale ondergaan
en al wat oorbly
is die dorings
wat jou konsep van liefde
onherroeplik
stukkend
steek.
(c)
j.s.s.
2021.01.16 -
Swart
Ek sluk die laaste bietjie klamheid van my mond in my keel af.
Ek wil skree maar my stem het onder in my longe gaan lê.
Hoekom?
Hoekom het jy pronkend voor my potlood en papier kom lê as ek jou nie mag skilder nie?
Hoekom is die skets wat ek van jou gesig het, sonder kuiltjies en plooie al het ek telke male die regte beeld voor my gehad?
Vanaand is my potlood te swaar om op te tel en my tekenvelle is gevlek.
Ek stop by elke spieel om te kyk of jy agter my staan, of jou hande dalk op my skouers of heupe rus en ek dit net nie voel nie.
Ek loop by my kunskamer in en ek loop weer uit want my verf is droog en my potlood stomp.
Die gedagte van jou is buitelyne met swak skakering.
Ek kan dit amper nie meer sien nie, maar ek kan dit skree.
Ek kan skree van elke keer wat jou hande in my hare was en van strate op n klein oos-kaapse dorpie waar strome herinneringe soos September reën wegvloei.
Ek kan die name van die plekke waar jou voetspore nou nog langs myne kuier uitskree in die volgorde soos ons gereis het.
Ek kan skree van elke koppie cheap koffie wat ons saam in n flat sonder sitkamerbanke gedrink het.
Ek kan skree van elke bynaam wat ons opgemaak het en van liedjies waarvan die lirieke eens lewend was.
Ek kan skree met elke stukkie van my hart wat nou hier op die vloer tussen hierdie meubels lê en bloei.
Ek kan!
Maar ek gaan nie.
Want jy het my tekenwerk uitgevee en jou ore doofgemaak vir krete wat teen liggaamsmure uitklim
en ek gaan moet besef dat nie eens die beste kunstenaar n swart hart kan inkleur nie.
(c)
j.s.s
2021.01.14 -
Soos die see
Het ek jou al genooi na die sonkamer van my kop
en jou laat ruik aan die vars grond van dit wat ek daar begin kweek het?
Het ek jou al vertel hoe jou woorde gereeld kom kampplek soek op my vel
en van al die oggenduur-gedagtes wat my drome in die rede geval het?
Het ek jou al die strande gewys wat binne my wens vir my en jou bestaan
en hoe ons liefde daarop hand-aan-hand baljaar?
Het ek jou al gesê dat ek, soos die see nooit sal ophou om sy skulpe en golwe
agter te los by iemand wat mens soos jy,
nooit sal ophou om vir die ‘ons’ in my en jou te baklei.
(c)
j.s.s
2020.11.02 -
Kaalvoetkind
Sprei jou vlerke
Kaalvoetkind,
want die berge se rante
steek skerp teen die wind.Vlug vir jou onskuld –
reis na die son,
want die onrus wag
vir jou aankoms in Sodom.Vlieg hoog bo die wolke
Struikelkind,
want die storm wat broei
maak jou opnuut blind!Lig trots jou vlerke
Kaalvoetkind,
want die heuwels en kranse
hang laag in die wind.Kruip weg vir die storms
wat jou wil verslind
en keer telkens na jou kinderdae terug
om jouself aan te hou vind. -
When the well’s dry
(Spesiale dank aan Tanya Abrie, ‘n goeie vriendin wat my geboortedag en baie tienerherinneringe saam my deel, vir haar bydrae tot hierdie gedig)
Ek was vertrou met die volgorde waarin die reeks sou verloop.
Iewers in my geheue het dit stadig maar seker ontknoop.
Jy word hierdie dinge geleer: die gegewes, konstantes en die definisies,
maar tog weet niemand méér as net wat dit is nie.Ek is ingehok deur oggenddou, opgesluit in n ewig-veranderende momentum.
Party skep emmers vol – ek skep asem.
Woorde, met die krag van verandering, lê en heers
oor die tyd wat aanstap – tevergeefs.
Sonder ‘n stem en ‘n wil om na iets buite die blik van norm te gryp.
Jy moet leer swem, anders gaan jy versuip!Die uitkykpunte langs die pad kom soos die hart se lub dub
en elke poging om te loer is ‘n rebelse druppel wat uit liters water drup.
Elke druppel moontlike menswees – ‘n waterval in wording.
Kan jy al swem, of gaan jy verdrink by die monding?Almal dig oor die einde met geen belang oor die begin
en my perspektief waak oor meer as net om daarin te ontgin.
Jare lank al grawe ons na goue klippies en die tafel onder die grond
en met n been in die graf voel ons, ironies genoeg, aards en gesond…
Dis n droeë wêreld dié van graniet en metaal,
maar n goeie swemmer weet hoe en wanneer om asem te haal.Ons is almal te laat gebore in ‘n wêreld wat haar omgee laat opdroog in haar soeke na meer
en net hier en daar is spatsels mense wat leer hoe om die golwe van die lewe te trotseer. -
Ver(ander)ing
Om bang te wees vir alleenheid is okey.
Mens moet eers kyk hoe al jou mense jou op 17 verlaat
en jy alleen jou skool se matriek-en-ouer-erediens moet bywoon,
voor jy besef hoe sag samekoms werklik kan wees.Om bang te wees vir verandering is okey.
Mens moet eers elke oggend wakker SKRIK
van n kamerdeur wat met geweld oopgeruk word,
voor jy met jou hele hart na n standvastige roetine begin smag.Om bang te wees vir afwagtende en oordonderende situasies is okey
want mens moet eers vir jare jou ore laat breek,
voor jy besef hy gaan nooit sagter praat nie,
net soos jy nooit weer sal kan ophou om jou naels te byt nie…Om bang te wees vir die weg-breek is ook okey.
Elke mens is n huis en elke huis het sy drumpel.
Daardie dag vat jy jou goed, al is jy nie Ferreira nie,
en jy trek!Trek weg van sy selfsug en sy koue gemoed.
Trek weg van sy harde stem en sy humeur.
Trek weg onder sy hand van beheer
en dwing jouself, net die een keer,
om te vertrou op dit wat kom
en dit wat jý kies…
Jou keuses is immers gebasseer op alles
wat jy reeds weet jy nie wil hê nie.Jy sal vinnig leer dat sagter stemme baie mooier dinge sê
en dat jy vreugde daaruit kan put om weer lang naels te hê.