Kaalvoetkind

Sprei jou vlerke
Kaalvoetkind,
want die berge se rante
steek skerp teen die wind.

Vlug vir jou onskuld –
reis na die son,
want die onrus wag
vir jou aankoms in Sodom.

Vlieg hoog bo die wolke
Struikelkind,
want die storm wat broei
maak jou opnuut blind!

Lig trots jou vlerke
Kaalvoetkind,
want die heuwels en kranse
hang laag in die wind.

Kruip weg vir die storms
wat jou wil verslind
en keer telkens na jou kinderdae terug
om jouself aan te hou vind.

When the well’s dry

(Spesiale dank aan Tanya Abrie, ‘n goeie vriendin wat my geboortedag en baie tienerherinneringe saam my deel, vir haar bydrae tot hierdie gedig)

Ek was vertrou met die volgorde waarin die reeks sou verloop.
Iewers in my geheue het dit stadig maar seker ontknoop.
Jy word hierdie dinge geleer: die gegewes, konstantes en die definisies,
maar tog weet niemand méér as net wat dit is nie.

Ek is ingehok deur oggenddou, opgesluit in n ewig-veranderende momentum.
Party skep emmers vol – ek skep asem.
Woorde, met die krag van verandering, lê en heers
oor die tyd wat aanstap – tevergeefs.
Sonder ‘n stem en ‘n wil om na iets buite die blik van norm te gryp.
Jy moet leer swem, anders gaan jy versuip!

Die uitkykpunte langs die pad kom soos die hart se lub dub
en elke poging om te loer is ‘n rebelse druppel wat uit liters water drup.
Elke druppel moontlike menswees – ‘n waterval in wording.
Kan jy al swem, of gaan jy verdrink by die monding?

Almal dig oor die einde met geen belang oor die begin
en my perspektief waak oor meer as net om daarin te ontgin.
Jare lank al grawe ons na goue klippies en die tafel onder die grond
en met n been in die graf voel ons, ironies genoeg, aards en gesond…
Dis n droeë wêreld dié van graniet en metaal,
maar n goeie swemmer weet hoe en wanneer om asem te haal.

Ons is almal te laat gebore in ‘n wêreld wat haar omgee laat opdroog in haar soeke na meer
en net hier en daar is spatsels mense wat leer hoe om die golwe van die lewe te trotseer.

Elke huis het sy drumpel

Om bang te wees vir alleenheid is okey.
Mens moet eers kyk hoe al jou mense jou op 17 verlaat
en jy alleen jou skool se matriek-en-ouer-erediens moet bywoon,
voor jy besef hoe sag samekoms werklik kan wees.

Om bang te wees vir verandering is okey.
Mens moet eers elke oggend wakker SKRIK
van n kamerdeur wat met geweld oopgeruk word,
voor jy met jou hele hart na n standvastige roetine begin smag.

Om bang te wees vir afwagtende en oordonderende situasies is okey
want mens moet eers vir jare jou ore laat breek,
voor jy besef hy gaan nooit sagter praat nie,
net soos jy nooit weer sal kan ophou om jou naels te byt nie…

Om bang te wees vir die weg-breek is ook okey.
Elke mens is n huis en elke huis het sy drumpel.
Daardie dag vat jy jou goed, al is jy nie Ferreira nie,
en jy trek!

Trek weg van sy selfsug en sy koue gemoed.
Trek weg van sy harde stem en sy humeur.
Trek weg onder sy hand van beheer
en dwing jouself, net die een keer,
om te vertrou op dit wat kom
en dit wat jý kies…
Jou keuses is immers gebasseer op alles
wat jy reeds weet jy nie wil hê nie.

Jy sal vinnig leer dat sagter stemme baie mooier dinge sê
en dat jy vreugde daaruit kan put om weer lang naels te hê.

Mens

Liewe …jy. Ek sit vandag en dink aan hoe jy sukkel om jou hemp se knope om jou polse vas te maak, hoe jy eers op die laaste deel van die liedjie op die radio sal begin saamsing en hoe jy nie kan besluit aan watter kant van jou kop jou sypaadjie die beste lyk nie. Ek sit en wonder of jy vandag met of sonder daardie vakansie armband werk toe is en of jy onthou het om jou kar se ligte af te sit na jy parkeer het.

My liefste mens, ek sit en dink aan ons anniversary vakansie waarop ons vergéét het dat dit ons anniversary is. Ek onthou hoe jy my op die strand afgeneem het en hoe baie i love you’s ons daardie naweek uitgeruil het. Ek wens ek kon my oë toemaak en weer my hand in joune sit terwyl ons op en af op Jeffrey’s se strand loop en praat oor gebroke kuslyne en vyfjaar doelwitte. Dis jy! Jy wat sê jy mens lekkerder as ek in die omtrek is en dat daar spasie op jou skouers is vir die tonne bagasie wat ek dra. Jy sê jy weet dat jy sonder my kan oorleef maar nie sonder my kan leef nie. Ek mis jou. Ek onthou hoe jy links verby my loer terwyl jy vlugtig onverskoning vra vir iets wat jy dink dalk verkeerd kon verloop. Ek wil weet hoe my môre lyk as jy saam daaraan skilder.

My tipe mens – dit is wat jy is! Ek lê vanaand en bid vir jou, al is jy soms te lui om jou baard te skeer of jou sokkies in die mandjie te gooi. Ek bid vir voorspoed Skat en liefde sonder ‘best before dates’ want ek wil weer saam jou Jeffrey’s toe gaan om die seemeeue van elke angle gecapture te kry en te wonder hoekom die golwe die sand herhaaldelik kom soek en agterlos by mense wat mens soos ek en jy.

Mens(dom)

God het die mens uit been en stof geskep met organe, ledemate en ‘n soekende siel.

Hy het ons instaat gestel om op te bou en so ook te verniel.

Oral skarrel siele maar is tyd, nie aan die einde van dag die enigste taak?

God het die mens gemaak met n liggaam wat instaat is om enige god te prys.

Hy het sy voorwaardes geopenbaar saam met dit wat Hy vereis.

Dis die bewoners se keuse wat bepaal wie en wat hul (aan)raak.

Ons – in alle selfskeppende glorie, verdof sonder Sy son en Sy wind

want God het die mens goed gemaak met denke en innoverende ideale.

Ons voel Sy hand oor en om ons menigde male.

Ons kan kies wat ons onder Sy hande staande bring en tot niet maak.

Sonder om te vergeet dat ons ook later lêplek in die stof gaan vind…

Boere(troos)

Vieruur soggens, terwyl ander hoeke van die aarde nog droom,

staan hy op, was sy gesig en kyk hoe die kookwater by die ketel uitstoom.

Die dag begin met die kraak van ‘n geroesde plaashek onder sy hande.

Hy ry nie – hy stap, sodat hy die koringare kan sien én voel op sy lande.

Die son kom skamerig groet en onder by die stal kraai die haan.

Ai! Die windpomp het lanklaas vir só lank stilgestaan…

Die volk het hulself begin besig maak rondom die werkswinkel,

Voor die stoor hou die trekker, waarmee die voer aangery word, stil.

Teen middagete voel hy weer om sy smeekgebed vir reën voort te sit,

maar soms raak dit moeilik om te glo en nog moeiliker om aan te hou bid.

Die ure van die dag is nie genoeg om by elke grensdraad uit te kom,

maar tog altyd genoeg om die veldblomme voor die plaashuis te sien blom.

Nou gaan lê die stof en die son se ure loop uit

en is daar net genoeg tyd vir n koppie boeretroos om die dag mee af te sluit.